Standvastigheid in die Verbond (#3225)

Roem sy aan U, o Koning van die ewigheid, en die Maker van nasies, en die Vormer van elke vermolmende been! Ek bid U, by U Naam waardeur U die hele mensdom na die horison van U majesteit en heerlikheid geroep het, en U dienaars na die voorhof van U genade en gunste gelei het, om my onder diegene te tel wat hulle onstlae gemaak het van alles behalwe Uself, en hulle na U gerig het, en nie teruggehou is deur die ongelukke wat deur U verorden was nie, om in die rigting van U gawes te draai.

Ek het die handvatsel van U mildheid vasgegryp, o my Here, en standvastig aan die soom van die gewaad van U guns gekleef. Laat daal dan op my, uit die wolke van U milddadigheid, dit wat uit my die herinnering aan iemand behalwe U sal uitsuiwer, en maak my bekwaam om na Hom te keer Wat die Voorwerp van die aanbidding van die hele mensdom is, teen Wie die aanporders van oproer opgestel was, wat U verbond gebreek het, en in U en in U tekens nie geglo het nie.

Ontsê nie, o my Here, die geure van U kleding in U dae nie, en beroof my nie van die asemhaling van U Openbaring nie ten tye van die verskyning van die luister van die lig van U gelaat nie. Kragtig is U om te doen wat U behaag. Niks kan U wil weerstaan nie, nòg verydel wat U met U krag bedoel het.

Geen God is daar behalwe U nie, die Almagtige, die Alwyse.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Standvastigheid in die Verbond (#3226)

Hy is die Magtige, die Vryspreker, die Medelydende!

O God, my God! U sien U dienaars in die afgrond van verderf en afwyking; waar is U lig van goddelike leiding, o U die Begeerte van die wêreld? U ken hulle hulpeloosheid en hulle flouheid; waar is U krag, o U in Wie se greep die kragte van hemel en aarde lê?

Ek vra U, o Here my God, by die prag van die ligte van U goedertierenheid en die golwe van die oseaan van U kennis en wysheid en by U woord waarmee U die volke van U gebied beheers het, om te gee dat ek een van hulle mag wees wat U gebod in U Boek nagekom het. En beskik U vir my dit wat U vir U toevertroudes beskik het, hulle wat die wyn van goddelike besieling uit die beker van U mildheid gedrink het, en gehaas het om te doen wat U behaag en om U Verbond en Testament na te kom. Kragtig is U om te doen soos U wil. Daar is geen ander God behalwe U nie, die Alwetende, die Alwyse.

Verorden vir my, by U mildheid, o Here, dit wat my in hierdie wêreld en hierná sal bevoorspoed en my na aan U sal trek, o U Wat die Here van alle mense is. Daar is geen God behalwe U nie, die Een, die Magtige, die Verheerlikte.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

